Wednesday 21 September 2011

MY PA IS DOOD

Die grond onder my voete kantel en wankel,
my ore suis, my maagspiere bondel styf -
my pa is dood!

Die nag is so donker; die wind vlymskerp koud -
'n paddatjie sit eensaam op die aanloopbaan, klein en benoud -
my pa is dood!

Motore skril; die maan kruip weg, 'n paar sterre blink stil.
Met magtige sug styg die straler op in die lug  -
my pa is dood!

Die kis is dig maar die graf sò diep...
Seemeeue kras, vlieg dan weg in die verskiet.
Kluite val dof, wyl die wind ruk-ruk swiep -
my pa is dood!

Heer, gee krag, hoe sal ons elke dag verder gaan?
Mense om my lag, eet en gesels... die lewe gaan aan
...my pà is dòòd...

Tuesday 20 September 2011

SIERADE...

Sekelmaan hang soos glimmende goud
tussen miljoene sterre skitterend
soos gleslose diamante
in 'n hemelruim van middernagblou fluweel
wat sag om die horisonne vou,
terwyl die aarde rustend  wag op die
vurige gloed van die robynrooi son wat
vroeg die dag opnuut sal tooi in
verruklike groen, geel, hemelblou en karmosyn rooi
terwyl sy hitte stadig
die aarde se rondinge verhit
en alles en almal skarrel en hul skik
vir die avonture van die nuwe dag
wat ek gretig, bakhand, soos 'n kind,
uit God se hand ontvang en
troetel  - 'n kosbare snoer herinneringe 
om aan die kapstok van gister te hang -
en reikhalsend te wag
op nòg 'n sieraad; nòg 'n dag.