Wednesday 12 October 2011

MEESTER ONTWERPER



Meesterlik het die hand van die Groot Etser
self die delikate viooltjie lyne
op die sagte, effense ronding van die fyn,
seeskuim-wit skeletskulp
wat na jare uit die see
steeds die mistiek en atmosfeer
van die meesleurende waters weergee,
met presiese, ragfyn strepies,
ontwerp, soos Jakobynse borduurwerk,
en ingeskerp
en die dwaalspoor
van kappertjie blare se are
op die anderkant aangebring.

En binne die ferm, vlesige
soet-oranje hart van die smul lekker
papaja, het die hand van die Meester Sjirurg
dieselfde delikate ontwerp uitgekerf
sonder om die uiterlike te kneus of te skaaf
en dit opgehang as versiering aan 'n boom
wat met enkel stam hoog
reik na 'n ster wat blinkoog
uit die hemelsfeer
weer dieselfde patroontjie reflekteer
en die ster toe in Bethleham bokant 'n stal
as teken van Sy vleeswording opgehang

Monday 3 October 2011

ODE AAN 'N KUNSTENAAR


Ode aan 'n kunstenaar

In drie kleure - wit, pastelblou en swart
doop jy jou kunstenaarskwas
om leefwyse, atmosfeer
van 'n verstote gemeenskap
aan die voet van 'n beroemde berg
kompleet met skadu's en lig,
met wolke wat hang in die lug,
en plasse water op die pad -
op spierwit doek te herskep.

Voorwaar jy het die gawe
om skoonheid te herdefinieer
dit ook met almal wat wil te deel -
dit dan te verplaas
na 'n nommer in 'n raam
786/1971,
jou handtekening onderaan
om jou identiteit te staaf .

Ek staan stom en staar na afbeeldings
van verskillende kunswerke uit jou begaafde kwas
met dieselfde tema en aanslag
in dieselfde skakerings gekleur
asof jy weer, en weer, en weer wou probeer
die toneel te verewig en ons gedagtes vas te pen
op 'n gedeelde, aparte verlede
wat ons nooit mag vergeet.

Hulde aan jou, hulde aan jou kwas
hulde aan die kleure Godgegewe
op jou doek en aan ons gesamentlike bas!