Monday 21 November 2011

Duinefontein, Eendekuil...

net maar twee van die eeu-oue name wat beskrywend van diè plase,
een na die ander stadig, in die ry, verby my gly.

Links wei skape op 'n stoppelland
wat getuig die boerge het greeds die kogring afgesny...
en in die laatnamiddag son word die skape se 
wolkarosse in lig- en skadukante geskei...

Regs 'n rustige trop swart en witbont beeste
gekamp teenoor 'n skaduryke bloekombos;
daarnaas 'n sag wiegend olyfboord silwergroen uitgedos.

Donswit vlieswolkies, deur 'n speelse suid-ooste windjie
aangedryf, spoelstoot soos brandertjies op pad na die strand -

Aangrypend mooi die jonggroen wingerd wat
in presiese lyne, soos my Afrika suster se haartooisels
oor die bultrond strek, sodat die aarde se ryk,
donker kopvelspoor egalig tussendeur haar lê kan kry.

Ek toeter waarskuwend vir die plesierig skaterende
rooivinkies wat uitdagend op die teerpad vergader
sodat hul luidrugtig fladderend die lug inswerm,
terwyl veldskilpad hom standbeeld stil skrik
wanneer ek versigtig-koersend oor hom ry.

Swartland! Swartland!
Kosmandjie van my land - hoe mooi is jy!

Wednesday 12 October 2011

MEESTER ONTWERPER



Meesterlik het die hand van die Groot Etser
self die delikate viooltjie lyne
op die sagte, effense ronding van die fyn,
seeskuim-wit skeletskulp
wat na jare uit die see
steeds die mistiek en atmosfeer
van die meesleurende waters weergee,
met presiese, ragfyn strepies,
ontwerp, soos Jakobynse borduurwerk,
en ingeskerp
en die dwaalspoor
van kappertjie blare se are
op die anderkant aangebring.

En binne die ferm, vlesige
soet-oranje hart van die smul lekker
papaja, het die hand van die Meester Sjirurg
dieselfde delikate ontwerp uitgekerf
sonder om die uiterlike te kneus of te skaaf
en dit opgehang as versiering aan 'n boom
wat met enkel stam hoog
reik na 'n ster wat blinkoog
uit die hemelsfeer
weer dieselfde patroontjie reflekteer
en die ster toe in Bethleham bokant 'n stal
as teken van Sy vleeswording opgehang

Monday 3 October 2011

ODE AAN 'N KUNSTENAAR


Ode aan 'n kunstenaar

In drie kleure - wit, pastelblou en swart
doop jy jou kunstenaarskwas
om leefwyse, atmosfeer
van 'n verstote gemeenskap
aan die voet van 'n beroemde berg
kompleet met skadu's en lig,
met wolke wat hang in die lug,
en plasse water op die pad -
op spierwit doek te herskep.

Voorwaar jy het die gawe
om skoonheid te herdefinieer
dit ook met almal wat wil te deel -
dit dan te verplaas
na 'n nommer in 'n raam
786/1971,
jou handtekening onderaan
om jou identiteit te staaf .

Ek staan stom en staar na afbeeldings
van verskillende kunswerke uit jou begaafde kwas
met dieselfde tema en aanslag
in dieselfde skakerings gekleur
asof jy weer, en weer, en weer wou probeer
die toneel te verewig en ons gedagtes vas te pen
op 'n gedeelde, aparte verlede
wat ons nooit mag vergeet.

Hulde aan jou, hulde aan jou kwas
hulde aan die kleure Godgegewe
op jou doek en aan ons gesamentlike bas!

Wednesday 21 September 2011

MY PA IS DOOD

Die grond onder my voete kantel en wankel,
my ore suis, my maagspiere bondel styf -
my pa is dood!

Die nag is so donker; die wind vlymskerp koud -
'n paddatjie sit eensaam op die aanloopbaan, klein en benoud -
my pa is dood!

Motore skril; die maan kruip weg, 'n paar sterre blink stil.
Met magtige sug styg die straler op in die lug  -
my pa is dood!

Die kis is dig maar die graf sò diep...
Seemeeue kras, vlieg dan weg in die verskiet.
Kluite val dof, wyl die wind ruk-ruk swiep -
my pa is dood!

Heer, gee krag, hoe sal ons elke dag verder gaan?
Mense om my lag, eet en gesels... die lewe gaan aan
...my pà is dòòd...

Tuesday 20 September 2011

SIERADE...

Sekelmaan hang soos glimmende goud
tussen miljoene sterre skitterend
soos gleslose diamante
in 'n hemelruim van middernagblou fluweel
wat sag om die horisonne vou,
terwyl die aarde rustend  wag op die
vurige gloed van die robynrooi son wat
vroeg die dag opnuut sal tooi in
verruklike groen, geel, hemelblou en karmosyn rooi
terwyl sy hitte stadig
die aarde se rondinge verhit
en alles en almal skarrel en hul skik
vir die avonture van die nuwe dag
wat ek gretig, bakhand, soos 'n kind,
uit God se hand ontvang en
troetel  - 'n kosbare snoer herinneringe 
om aan die kapstok van gister te hang -
en reikhalsend te wag
op nòg 'n sieraad; nòg 'n dag.

Friday 26 August 2011

FLUTTERBY...



...beautiful, fragile little butterfly.
Flutter your intricately feathered wings and fly
caressing the colour splashed flowers dancing
graciously in the gentle breeze carrying you thru the sky.
Enjoy your fill of nectar, cherished draught of the gods;
and with joyous abandon, let your slight, pollen shod body perform
the life task set before you from when you would crawl…and
Flutterby, butterfly, flutter away, enjoy this your glorious day…





Wednesday 24 August 2011

ALMAGTIG HEMEL VADER

Soveel keer U teleurgestel, bedroef, beproef,
Soveel keer gefaal...
Soveel keer weer teruggedraai na U, soos nou,
wyl dit voel of ek die finale vallei betree
wat sal ek nou vra, Heer, behalwe vir genade, weer 'n keer?

Soos Hiskia na die muur gedraai ween en uitstel vra...
soos Elia onder die besembos smeek om te gaan...
soos Jona in die vis se maag...
soos Jesus in Getsemane...

is ek benoud... ek moet bely ...

soos Abraham: 'Here, as ek guns vind in U oë, moet asseblief
nie aanstoot neem as ek nog een keer
met U spreek" en nogmaals om genade smeek...

So lê ek ootmoedig voor U, Genadige, Almagtige...

En ek vra: "Asseblief, Abba, Vader God, pa!"

Tuesday 23 August 2011

KOERANTVERKOPERTJIE IN DIE REëN

'n Mistige, reënerige wintersdag...
Die toneel is Adderleystraat in die hartjie van die Kaap -
in die jaar van onse Heer 1958.
Tafelberg is snoesig toegewoel onder sy wolkkombers en voel
nie die wind wat om sy heupe huil; sien nie die wolke wat bulderend die massas
waters wat hulle dra oor stad en kaai ontlaai.

'n Middeljarige man beur hande-in-die-sakke, gesig-gedraai-na-die-teer, teen die
rukkende krag van die noordweste wind, verby die deurdrenkte, bibberende,
kaalvoet, koerantverkopertjie - nog 'n kind - wat koue, en stuiwende reën
tenspyt, sy dagblad se verdraaide naam luid en teen die drywende wind,
 op die hoek van die straat, uitkryt:

"Argieeeee... Argieeeeeee!"

In die terugkyk sis die man een enkel woord, "Sies!" na die kind en loop dan
kop-agteroor, oopmond-laggend-in-die-reën as oombliklik die vlymskerp
antwoord oor reënpoele na hom terugkaats:

"Nei, sies, oubaas, ons raas mossie nou van akkies en van eitgan nie!"

Monday 1 August 2011

WAAR JESUS WOON

Eensaamheid vou soos 'n ou,
welbekende, dungeslyte kleed om my
Trane loop -
verlange, pyn, fisiese nood -
my hart skryn.
Soos Hiskia le ek
voor U aangesig en huil...
Voel dan Vader arms van God
beskermend rondom my.

Met my kop teen U bors
is ek getroos.
Ek lees van Salomo se tempel
met goud beslaan...
besef met skrik van opwinding
die binne mure van my huisie
is in goue tint getooi!
En ek vra mooi
dat U hier by my sal bly...

Nou is ek nie meer alleen
Dis Hy en ek -
ek en Hy -
Eregas, Vader,
en Vriend, God-met-ons,
my Trooster, my Broer, my Lig, Geneesheer -
ons beplan in die toekoms saam baie te vermag -
deur die Gees se krag -
hier in die hart van my huisie
lig val op songoue mure...
waar Jesus saam met my woon.

Thursday 28 July 2011

HEER,

As ek 'n portretstudie van U sou wou skilder
Hoe sou die voltooide doek lyk?
Wat is die kleur van majesteit, heerlikheid, glorie, en krag?
Hoe kan ek gestalte gee aan alomteenwoordigheid, alwetenheid, sterkte en mag?
Hoe word U grenslose liefde, genade, vergifnis, en guns omlyn?
Hoe uitdrukking gegee aan U smart, lyding en pyn wat U om die mens onthalwe moes ly?
Waar kry ek 'n doek groot genoeg om alles te skou
wat U binne u Skeppershande onderhou?

Wednesday 20 July 2011

U IS HIER

In die stilte van die vroeë oggend
word ek wakker met die wete -
U is hier.

In die hitte van die middagson
wanneer in sweet van my aanskyn my wange rooi blom
weet ek -
U is hier.

In die namiddag koel
op pad huistoe na die dag se swoeg en gewoel
ervaar ek -
U is hier.

Middernag
wanneer in stilte net nog die sterre wag
sug my siel voldaan -
hierby kan ek staan -
U is hier!

Monday 4 July 2011

ELOìSE

Jou naam is steeds mooi vir my...
van jou menswees het ons skaars 'n  glimps gekry
terwyl jy in my bloed gespartel het om jou
eerste asemteug te snak.

Vir 'n dag en nag het jy gebly
in die broeikas
broos
en pophuis klein

toe is jy weg
in 'n oogwink

weg...

asof jou bestaan nooit was
sonder dat ek my liggaamswarmte weer met jou kon deel
of met my vingers deur jou donsig haartjies kon speel

weg...

en my liggaam het onbeantwoord bly roep en soek
na die lewe wat dit
vir 'n halwe jaar
beskerm, gekoester en gevoed het...

my vol, geswolle borste
drup groot ronde witblou
trane
en treur oor dit wat was
wat nooit weer sal wees

geen foto
net 'n begrafnisbrief

en die kortstondige droom
van 'n donkerkop dogtertjie

Eloìse...

wat nou in die hemel woon.

Sunday 3 July 2011

WARREL WOORDE

Woorde warrel
stormagtig stuwend
deur gedagtes
verwoed, verwaaid
uit spiraal
rondomtralie gedraai
tot op papier
vasgevang.
Net 'n inkstreep bly
wanneer spiraal leeg,
stil,
inplof
en tot stof
teruggly.