Jou naam is steeds mooi vir my...
van jou menswees het ons skaars 'n glimps gekry
terwyl jy in my bloed gespartel het om jou
eerste asemteug te snak.
Vir 'n dag en nag het jy gebly
in die broeikas
broos
en pophuis klein
toe is jy weg
in 'n oogwink
weg...
asof jou bestaan nooit was
sonder dat ek my liggaamswarmte weer met jou kon deel
of met my vingers deur jou donsig haartjies kon speel
weg...
en my liggaam het onbeantwoord bly roep en soek
na die lewe wat dit
vir 'n halwe jaar
beskerm, gekoester en gevoed het...
my vol, geswolle borste
drup groot ronde witblou
trane
en treur oor dit wat was
wat nooit weer sal wees
geen foto
net 'n begrafnisbrief
en die kortstondige droom
van 'n donkerkop dogtertjie
Eloìse...
wat nou in die hemel woon.
No comments:
Post a Comment