Monday 21 November 2011

Duinefontein, Eendekuil...

net maar twee van die eeu-oue name wat beskrywend van diè plase,
een na die ander stadig, in die ry, verby my gly.

Links wei skape op 'n stoppelland
wat getuig die boerge het greeds die kogring afgesny...
en in die laatnamiddag son word die skape se 
wolkarosse in lig- en skadukante geskei...

Regs 'n rustige trop swart en witbont beeste
gekamp teenoor 'n skaduryke bloekombos;
daarnaas 'n sag wiegend olyfboord silwergroen uitgedos.

Donswit vlieswolkies, deur 'n speelse suid-ooste windjie
aangedryf, spoelstoot soos brandertjies op pad na die strand -

Aangrypend mooi die jonggroen wingerd wat
in presiese lyne, soos my Afrika suster se haartooisels
oor die bultrond strek, sodat die aarde se ryk,
donker kopvelspoor egalig tussendeur haar lê kan kry.

Ek toeter waarskuwend vir die plesierig skaterende
rooivinkies wat uitdagend op die teerpad vergader
sodat hul luidrugtig fladderend die lug inswerm,
terwyl veldskilpad hom standbeeld stil skrik
wanneer ek versigtig-koersend oor hom ry.

Swartland! Swartland!
Kosmandjie van my land - hoe mooi is jy!

No comments:

Post a Comment