Tuesday 23 August 2011

KOERANTVERKOPERTJIE IN DIE REëN

'n Mistige, reënerige wintersdag...
Die toneel is Adderleystraat in die hartjie van die Kaap -
in die jaar van onse Heer 1958.
Tafelberg is snoesig toegewoel onder sy wolkkombers en voel
nie die wind wat om sy heupe huil; sien nie die wolke wat bulderend die massas
waters wat hulle dra oor stad en kaai ontlaai.

'n Middeljarige man beur hande-in-die-sakke, gesig-gedraai-na-die-teer, teen die
rukkende krag van die noordweste wind, verby die deurdrenkte, bibberende,
kaalvoet, koerantverkopertjie - nog 'n kind - wat koue, en stuiwende reën
tenspyt, sy dagblad se verdraaide naam luid en teen die drywende wind,
 op die hoek van die straat, uitkryt:

"Argieeeee... Argieeeeeee!"

In die terugkyk sis die man een enkel woord, "Sies!" na die kind en loop dan
kop-agteroor, oopmond-laggend-in-die-reën as oombliklik die vlymskerp
antwoord oor reënpoele na hom terugkaats:

"Nei, sies, oubaas, ons raas mossie nou van akkies en van eitgan nie!"

No comments:

Post a Comment